PIE vs ESTA

Die vraag word dikwels gevra watter wet gebruik moet word in 'n regsgeding vir die uitsetting van 'n bewoner van grond.  Hierdie artikel handel primêr met die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (hierna in die artikel na verwys volgens die Engelse akroniem van die wet se naam, "ESTA") en die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond (hierna genoem volgens die Engelse akroniem van die wet se naam, "PIE").

 

Die vraag watter wet van toepassing is op 'n spesifieke geval kan soms baie tegnies wees.  Dit is belangrik om volledige regsadvies in dié verband in te win.  Dit is egter moontlik om breë riglyne te lys wat die onderskeid tussen die twee wette duideliker sal maak.

 

In die eerste plek is PIE van toepassing op alle grond en geboue in die Republiek van Suid-Afrika.  Dit sluit landbougrond en kleinhoewes in.  ESTA is slegs van toepassing op landbougrond soos gedefinieer in die ESTA-wet.  ESTA sal dus nie in stedelike gebiede van toepassing wees nie.

 

Die PIE-wet is van toepassing op persone wat nie enige vorm van toestemming of reg het om op die spesifieke grond te woon nie.  ESTA vind toepassing waar persone wel toestemming het om op landbougrond te woon.  Die toestemming kan uitdruklik of stilswyend wees.  Die toestemming kan vervat wees in 'n huurooreenkoms, dienskontrak of in enige ander vorm.  Meeste plaaswerkers sal onder ESTA resorteer.  Waar 'n persoon byvoorbeeld 'n woning huur in 'n stedelike gebied en die huurkontrak dan gekanselleer word, sal PIE steeds toepassing vind.  Al was daar 'n vorm van toestemming om die eiendom te betrek, is die eiendom in stedelike gebied en sal ESTA nie toepassing vind nie.

 

'n Persoon word uitgesluit van die beskerming van ESTA indien die persoon kommersiële aktiwiteite op die grond bedryf of kommersieel boer.  Persone met 'n inkomste bo die bedrag soos vasgestel in die Staatskoerant is ook uitgesluit van die beskerming van ESTA.  Tans is die bedrag vir uitsluiting 'n inkomste van R5,000.00 per maand.  Persone wat meer as R5,000.00 per maand verdien sal dus nie onder ESTA resorteer nie en in alle waarskynlikheid onder die PIE-wet uitgesit word.

 

Hierdie is 'n baie kort opsomming van die onderskeid tussen die twee wette.  Daar is ook ander wetgewing wat moontlik toepassing kan vind, soos byvoorbeeld die Wet op Grondhervorming:  Huurarbeiders, 3 van 1996.  Dit is belangrik om die toepaslike wet vroegtydig te identifiseer.  Uitsettings in terme van PIE kan in die plaaslike Landdroshof of in die Hooggeregshof met jurisdiksie oor die streek gedoen word.  Uitsettings van okkupeerders in terme van ESTA moet in die Landdroshof of in die Grondeisehof gebring word.  Die Hooggeregshof het slegs jurisdiksie in 'n ESTA-uitsetting indien die okkupeerder toestem tot die jurisdiksie van die Hooggeregshof.  'n Okkupeerder sal selde of ooit toestem hiertoe.  Indien die saak in die verkeerde Hof aanhangig gemaak word, sal die saak om daardie rede verloor kan word.  Dit is gevolglik belangrik om die korrekte inligting in te win voordat enige uitsetting aangepak word.

 

Skakel gerus ons kantore vir konsultasies aangaande uitsettings in terme van beide die PIE- en die ESTA-wet en ander toepaslike wetgewing.